ANHS se nuwe Seniorleerlingraad het ‘n opwindende eerste week beleef!

Dit was voorwaar ‘n besige week vir beide ou en nuwe Senior Leerlingraad van ANHS. Maandagmiddag die 12de Oktober het die dames heerlik saam gekuier en teepartytjie gehou in die Ondersteunersklub. Die manne het later die middag lekker saam gebraai en staaltjies en raad is uitgeruil om die braaivleisvuur.

Woensdagaand (14/10) is daar formeel afskeid geneem van die uittredende Senior Leerlingraad tydens die Leerlingraad 2020 se dinee. Juffrou Melissa Ferreire en haar graad 11- span het hulself oortref met  pragtig gedekte tafels en geurige kos. Daar is vir oulaas heerlik saam gekuier en afskeid geneem.

Donderdagoggend (15/10) het die nuut aangekondigde Leerlingraad op hul kamp vertrek.

Dit is hierdie keer op die lieflike gasteplaas Toll-Inn gehou. Van die oomblik dat ons ingery het en omring was deur die lowergroen grasperke en bome, tot die gerieflike huisies waarin ons kon bly en die saal met ‘n heerlike stoep en braaigeriewe, was almal opgewonde en gereed vir aksie! Juffrou Sandra Watkins en die Leerlingraad van 2021 wil mevrou Charmaine Kretsenger, eienaar van Toll-Inn,  van harte bedank vir haar gasvryheid en alles waarmee sy ons bederf het. Daar is darem nie net hard gewerk om die beplanning vir 2021 te doen nie,maar daar is ook heerlik geswem en saam gekuier. Ons wil ook baie dankie sê aan meneer Neil Davy wat almal se magies volgehou het met die heerlike kos waaraan ons kon smul.

Maandagoggend die 19de het daar groot opgewondenheid geheers, want dit was tyd vir die aankondiging van die hoofleiers vir 2021. Graag wil ons geluk sê aan Annique Leeuwskieter en Imiell Christensen wat as hoofseun en hoofdogter vir 2021 verkies is. Geluk ook aan Olwethu Nyezi en Walt Vorster wat as onderhoofseun en onderhoofdogter verkies is. Baie geluk met jul ampsposisie en sterkte vir 2021.